07.15.08 (12:18 pm)


Bittersoet   [edit]
Jare laas geblog - het intussen vir twee maande oorsee gaan rondfoeter, in Desember begrafnis gehou, noodgevalle toe gejaag met moeder in Januarie, my vryskutloopbaan op die been begin bring in Februarie, vir 'n week saam met die skoonmonsters by die see gaan uitspan in April, Mei van die kalender afgevee sonder veel gedaan, Junie myself oor 'n mik gewerk en nou... nou wonder ek waar die volgende brood en botter vandaan gaan kom. Bittersoet, die lewe van 'n vryskutwerker, dis beslis. Genoeg tyd om jouself in dinge soos pottebakkery en skopboks te verlustig as daar nie werk te doene is nie, en geen tyd vir basiese dinge soos 'n koppie koffie as daar wel werk te doene is nie. Maar ek verkies dit so. Ek's my eie baas, en al waaroor ek regtig kan kla, is min kontak met die buitewêreld. Ag, dan blog ons maar.




06.21.06 (7:48 am)


Party mense...   [edit]

Onthou hoe ek so twee weke gelede uitgevaar het oor die vrot spelling en tipografiese foute op die mooi bemarkingsmateriaal wat die klomp markkoeie op die mure laat sit het?

Genoemde koeie het nou uiteindelik die klok hoor lui en dit van die mure laat afhaal.  Maar sal die taalpraktisyns nou ooit genader word om dit onder oë te neem en te fieks? O nee.

Op dieselfde trant: die mees onlangse en flagrante misbruik van taal lui as volg:

"55% of Springboks are male followers"

Ek is mal daaroor. Uiteindelik is daar uitsluitsel oor die vraag of die ouens op die rugbyveld eintlik net agter mekaar se ballletjies aan is in plaas van die eiervormige een.  Ja, ja. Ek weet wat die skrywer nou eintlik wou kwytraak. Maar moet 'n mens iets wat op 'n amptelike persverklaring staan, probeer uitpluis voordat dit sin maak? Ek dink nie so nie!

Sulke dinge moet mos tot die punt en op die man af wees... joernaliste het nie tyd om hulle koppe om jou vrot Engels te probeer draai voor saktyd nie. En buitendien is dit 'n ongelooflike swak refleksie op nie net die skrywer nie, maar nog erger: dit sleep die maatskappy se naam deur die modder.

NS - Ek dink die kategorieë wat hulle vir die blogs beskikbaar stel, is maar baie beperk. Waaronder sou mens nou my inskrywing sorteer? Want 'miscellaneous' gaan andersins heeltemal te veel gebruik word... 





06.21.06 (7:28 am)


Daar gaan die kaas...   [edit]

Hier by die werk skuiwe hulle ons kaas ernstig heen-en-weer - ek trek nou môre oopplan toe. grrrrr!

Ek is nie seker of ek lank nog gaan bly en kyk hoe hulle my 'comfort zone' se stoffeersel uittrek nie...





06.07.06 (11:59 am)


Simpel kantoorreëls   [edit]

Wonderlik, mense. Ons is nou 'n diktatuur, nie meer 'n maatskappy nie.  Vra vir die bemarkingsbestuurder (soos al die ander bemarkings mense op 'n wolkie van haar eie) waarom sekere regulasietjies van bo af op mense afgedwing word sonder enigiemand se insae, en sy borduur voort op die uitvoerende bestuurder se filosofie dat 'dit te lank sal neem om elkeen in die maatskappy se mening in te win en dat dit in elk geval goeie bestuur is om besluite te neem en daarná te verbeter na aanleiding van mense se voorstelle ens.'.

Wat 'n pot nonsens!  En vra vir bogenoemde bemarkingsbestuurder waarom daar dan enigsins werknemerverhoudingsopnam es onder personeel gedoen word, dan kom die antwoord dat dit niks met die prys van eiers uit te waai het nie!

Waaroor ek dit vandag het, is dat ons nou na die nuwe ingerigte 'pouseerarea' moet verkas as ons enigsins 'n bietjie koffie, tee of dergelike spyse wil nuttig.  Geen gevreet meer by die lessenaar nie, geen ietsietjie om jou aan die gang te hou terwyl jy besig is met daai groot projek wat jou nou al vir vier dae lank slaaplose nagte gee nie.  O nee, ons moet nou vier dae te perd reis om 'n bekertjie sawwelyf te mag smaak.  En dit terwyl almal vir jou dan deur die glasafskorting kan loer.  Genoeg om jou lus vir daai koppietjie tee te laat verloor.

Tweede vloermoer vir die dag: al die nuwe bemarkingsmateriaal wat nou so trots op die mure gesit word, is sonder die proeflesers se medewete gepleeg.  Ons het dus nou sulke unieke dinge soos "pincussion protea's" en ander vreemde voorwerpe teen die muur. En die Amerikaanse spellings van woorde soos 'endeavour' ens. Gril my dood.  Boonop is die grafika so 'memoirs of a geisha'-agtig dat dit teen volgende seisoen uit die mode gaan wees. Wonderlik, dan sal die klomp maar seker nuwe goed teen astronomiese bedrae laat druk.  Daar gaan my bonus al weer.

Ek is stadig maar seker besig om 'n gesonde weerstand teen die malligheid in hierdie plek op te bou.  Soek vir my werk, mense! 'n Vis-en-tjipswinkel klink vir my goed, ten minste sal die reuk 'consistent with the business aim' wees.





05.25.06 (5:25 pm)


Skrefiesogies en rekenaarskerms   [edit]

Uitgedroogde ogies, koue vingertjies en 'n opgewerkte blaas.  Dííí s hoe ek voel/lyk wanneer 'n groot projek my besig hou.

Met skrefies sit ek later na die skerm en kyk, en ek kan al die flikkering akuut waarneem elke keer wanneer die muis iewers anders heen gestuur word om iets ongedaan te maak of nóg 'n formaat weereens en nogmaals te verander sodat alles mooi sal inpas.

My brein voel soos 'n papgetrapte bloublasie op Durban se strand... Ag, hoe wens ek ek was nou daar!Durban se waterkant 





05.25.06 (12:15 pm)


Lukraak   [edit]

Snaakse woordjie, lukraak. Soos luikrug of lutsput of luns.  Sulke vreemd losserige woorde wat met die 'u' se klank agterin die mond vasgemaak word. Soos klippers wat in 'n put plons.

Maak nou 'n eienaam wat so klink, en die beeld van 'n grote lummel met hamervuiste en blomkoolore sal voor jou geestesoog opdoem die oomblik as dié naam geuiter sou word.  Maar wat van die vroulike, vreeslike verleidelike naam 'Lulu'? Poedel, dink ek.  Pure poedel.

Kom ons skryf 'n Taal-Olimpsest uit, waar digters en skrywers en regters en skrynwerkers en rekeningkundiges en verligtes mekaar kan uitdaag om die vreemdste Afrikaansklinkende naamkombinasies uit te dink. Die wenners kan dan hul geskape naam aan 'n ding toeken, soos 'n ster of hemelliggaam, of miskien 'n onskuldige labrador-hondjie of selfs 'n bekende se kind...





05.19.06 (12:47 pm)


bliksem tog!   [edit]
Weet nie hoekom my vorige pos gedupliseer is nie - lyk my ek het artritis of karpale tonnelsindroom of iets, seker maar twee keer op die submit-knoppie gekliek. Vanoggend se sonsopkoms was wondervreemd. Die koue front wat oppad is, en seker gemaak dat die son sy rooi en oranje oor sulke hobbelrige wolkasempies kon gooi. Skouspel. Net jammer ek moes wakker wees daarvoor. Maar ek moenie moun nie, die werk word nie minder nie en die geldjies is handig. Wat ek so van vertaalwerk geniet, is dat 'n mens altyd nuwe goed leer en weer jou kennis moet in heraanskouing neem. Jy kan ook deurentyd jou vaardigheid as vertaler slyp op die menige variasies van teikengroep, register, toon en styl. Om van dinge soos die mediaformaat nie eens te praat nie. Daar word beweer dat vertalers net gefrustreerde ongeïnspireerde skrywers is wat nie die selfvertroue het om hul eie maaksels te pleeg nie. Kan seker maar op kritici van toepassing wees ook, nê? Terug na die werklikheid: het nog nie tyd gehad om nuwe foto's te gaan neem en te laat ontwikkel nie. Dit gaan deesdae maar broekskeur met die stokperdjie. En ek wil tog so graag 'n prys of twee wen...




05.16.06 (3:39 pm)


die ewige stryd   [edit]
nes ek dink al die harde werk verby, dan kom nog 'n ding oor my pad en ek beloof weer die heerlikste resultate aan wie weet nog. dis inderdaad my swakpunt, dié ge-ja-sêery vir alles wat vir my na 'n uitdaging of pret lyk. kom ons kyk of ek hierdie week vir 'n slag aan myself kan dink en my tyd beter beplan. nee wag, hierdie week is klaar in sy moer - volgende week dan...




05.08.06 (11:42 am)


Bruikbare kuns   [edit]
O ja, voordat ek vergeet. My vrind Tito Dupret maak panografieë, wat nogal iets aardig is om te aanskou - hy is besig om al die 'World Heritage Sites' te fotografeer. En nie net plat prentjies daarvan te maak nie, maar 360 grade voorstellings. ja, jy kan nou na van dié goed kyk asof jy self reg in die rondte draai! Gaan loer by http://www.world-heritage-tou...




05.08.06 (11:35 am)


Nou't ek als gehoor   [edit]
Kunstenaarskap kom vir party mense maklik, ander werk weer jare sonder om enige erkenning daarvoor te kry, en dan is daar diegene, soos ene Tim Patch, wat met vreemde foefies hulself as artiestieke tipes probeer bewys... Dié ou het blykbaar falliese geskiedenis (geskadenis?) gemaak deur sy penis te gebruik om 'n portret te skilder. En nie sommer net van sy muse of sy lover nie, maar van 'n ernstige politieke figuur. Die Australiese Premier. Praat van 'n statement maak. Ek het nog altyd gedink politici is onder die belt, maar om dit nou letterlik te gaan vertolk! Dalk wou Mnr. Kunstenaar net wys dat hy ook 'n genoegsame uitsteekseltjie het om só 'n daad te kan pleeg? Of wil hy net aan die feministiese kunstenaars 'n uitdaging stel? Ek dink dis maar net nog 'n weergawe van 'boude-op-fotostaatmasjie n'...